|
Gordon Training International (GTI) is 'n unieke opleidingsorganisasie wat in 1962 deur Dr. Thomas Gordon, die pionier van ouerskapleiding, gestig is. Dr. Gordon se Parent Effectiveness Training (PET) is die mees suksesvolle kommunikasie vaardigheidskursus in die wêreld vir ouers – meer as 'n miljoen mense in 43 lande het reeds baat gevind daarby! Kyk ook asb na die GTI webblad: http://www.gordontraining.com/parentingclass.html
Die kursus word gereeld hersien om te verseker dat dit aanpas by die huidige samelewing. Die kursus is in Afrikaans vertaal as Doeltreffende Ouerskap Leiding (DOL).
Die Doeltreffende Ouerskap Leiding kursus is uniek omdat dit nie gerig is op ouers met buitengewone probleme nie (Ouers kan deesdae vir elke probleem met ‘n kind iewers aanklop vir gespesialiseerde raad). Hierdie kursus is vir gewone ouers met normale kinders. Die kursus behels inligting en praktiese kommunikasie vaardighede om die ouers beter toe te rus vir die belangrike taak wat hulle verrig, naamlik om emosioneel gebalanseerde kinders groot te maak.
Studies wys dat emosionele intelligensie ’n groter rol speel in jou kind se toekomstige sukses as sy IK. Anders as IK, is emosionele intelligensie iets wat jou kind kan aanleer. “Die belangrikste faktor vir sukses in 'n kind se lewe, is emosionele intelligensie" - Daniël Goleman, ‘Emotional Intelligence: Why It Can Matter More Than IQ '. Hy verwys na vermoëns wat aangeleer en ontwikkel kan word om sodoende besonderse prestasies te behaal: Self-insig, Self-regulering, Motivering, Empatie en Sosiale vaardighede.
As ouers hulle kinders 'n voorsprong wil gee in die lewe, moet ouers leer om hulle kinders die vermoë te gee om kennis oor hul eie en ander se emosies te gebruik om positiewe aanpassings aan hul verhoudings te maak. Die DOL kursus leer ouers hoe om hul kinders ‘emosionele intelligent’ groot te maak.
Die voordeel van die kursus bo 'n praatjie of 'n boek wat jy lees, lê in die praktiese aanbieding daarvan. Die meeste ouers lees of hoor van al die wonderlike begrippe soos 'luister na jou kind', 'werk aan 'n goeie verhouding', 'verbeter jou kind se selfbeeld', 'maak 'n verantwoordelike kind groot', 'maak 'n kind groot met selfdissipline', ens. Ongelukkig weet die meeste ouers nie hoe om dit in die praktyk reg te kry nie. Gedurende die D.O.L/ P.E T. kursus leer ouers presies hoe om al dié dinge te bereik, net deur reg te praat. Dr. Gordon sê in sy boek 'Doeltreffende Ouerskap Leiding' wat in die kursus gebruik word: "Hoe suksesvol jy as ouer is, hang af van die manier waarop jy met jou kind praat".
'n Belangrike aspek van die kursus, is om vir ouers te leer om konflik te hanteer op 'n wen-wen manier. Dit het baie noodsaaklik geword in ons land dat ons ons kinders leer om nie te dink in terme van geweld nie, en nie te dink in terme van straf nie, maar in terme van vreedsame oplossings.
Hoe jy en jou gesin sal baat:
Jou kinders sal makliker hul probleme en emosies met jou bespreek, i.p.v. terugtrek.
- Kinders sal self-disipline, self-beheersing en persoonlike verantwoordelikheid aanleer.
- Jy sal leer hoe om saam te werk met jou kinders, eerder as teen mekaar.
- Daar sal minder woede uitbarstings wees, en meer probleem oplossings.
- Almal in die gesin sal meedoen om reels op te stel, en so sal almal gemotiveer wees om daaraan te voldoen.
- Minder gevalle van ‘n magstryd , dus minder spanning, gegriefdheid en meer plesier, vrede en liefde in die huis.
Jy sal leer hoe om:
- Te praat sodat jou kinders luister (Ek-Boodskappe).
- Te luister sodat jou kinders voel hulle word verstaan (Aktief Luister).
- Kommunikasie blokkasies te vermy (Kommunikasie Versperrings).
- Konflik/Probleme op te los sodat niemand verloor nie en die oplossings langdurig is (Wen-Wen Metode).
- Vroegtydig probleme in die familie raak te sien en waardebotsings met die nodige Konsulterende Vaardighede te hanteer.
|